Een sterf toe motor deur skool se muur ploeg
2012-01-20 12:30
Kaapstad – Een persoon is dood en drie ander mense, waaronder twee kinders, is beseer toe ‘n motor Vrydagoggend deur 'n muur by die J. S. Kloppers Laerskool in Elsiesrivier, Kaapstad, geploeg het, het die eNews-kanaal berig.
Theo Layne, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het aan dié kanaal gesê een van die kinders is per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem. Die ander kind is per ambulans na 'n hospitaal in die gebied geneem.
"Die beseerdes is deur reddingswerkers op die toneel gestabiliseer voor hulle hospitaal toe geneem is."
Layne kon nie bevestig of die oorledene die bestuurder van die motor was nie.
Paula Chowles van dié nuuskanaal is op die toneel en sê leerders en onderwysers by die skool erg getraumatiseer.
Daar is aanvanklik berig dat 'n vragmotor teen die muur gebots het, maar dit is later bevestig dat dit 'n Hyundai Accent was.
Volgens 'n ooggetuie het die motor in die straat gejaag en het die bestuurder vermoedelik nie geweet dat daar 'n skerp draai in die pad is nie.
Die motor het toe deur die skoolhek geploeg, oor die skool se veld gery en teen die muur tot stilstand gekom.
Geen ander besonderhede is bekend gemaak nie.
Hou Nuus24 dop vir meer inligting
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24