Een sterf, 11 beseer in taxi-ongeluk
2010-12-20 18:52
Johannesburg – Een man is dood en 11 mense is beseer toe ‘n taxi Maandag agter in ‘n bus wat op die N1 geparkeer was vasgebots het, het, het polisie in die Vrystaat gesê.
“Daar was 12 mense in die taxi. Een is dood en die ander 11 is na ‘n hospitaal geneem,” het sers. Puleng Motsoeneng gesê.
Hulle was van Sterkspruit in die Oos-Kaap na Johannesburg onderweg toe die ongeluk omstreeks 02:00 plaasgevind het.
Volgens Motsoeneng het die bus langs die pad gestaan en die bestuurder van die taxi het dit moontlik nie gesien nie.
Slegs die busbestuurder was op die bus en hy is nie beseer nie.
Met Netcare 911 se aankoms op die toneel was vyf mense in die wrak van die taxi vasgekeer, het woordvoerder Jeff Wicks gesê.
“Met die hulp van die brandweer en reddingstegnici is die beseerdes uit die wrak gesny terwyl die paramedici hulle op die toneel gestabiliseer het,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Hulle is almal na hospitale en klinieke in Bloemfontein, Winburg en Welkom geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA