Een maand oue baba ontvoer
2012-01-17 18:00
Johannesburg – ‘n Soektog is van stapel gestuur na ‘n een maand oue baba en ‘n vrou wat hom glo uit die kantoor van binnelandse sake in Ladysmith ontvoer het, het die polisie Dinsdag gesê.
Die vrou het die baba, Mlondi Thwala, se ma Maandag genader, het kapt, Thulani Zwane in ‘n verklaring gesê.
Sy het beweer dat die munisipaliteit haar opdrag gegee het om ondersteuning te bied aan babas onder die ouderdom van drie maande.
Die vrou het voorheen die Colenso-gemeenskap uitgevra oor families met babas in hierdie ouderdomsgroep.
Zwane sê die vrou het die ma oortuig om saam met haar na die kantoor van binnelandse sake te gaan, waar sy belowe het om haar te help met ‘n aansoek vir ‘n toelaag vir die baba.
By die kantoor het die vrou aan die ma gesê dat sy die kind sal neem om kos te gaan kry. Sy het nie teruggekeer nie.
Die ma het bekommerd geraak en het in die omgewing gesoek, maar die vrou en baba was nêrens te sien nie.
Die kind het ‘n geel frokkie met ‘n bypassende toppie bo-oor aangehad, sowel as ‘n lemmetjiegroen en poeierblou broek wat waterbestand is, het Zwane gesê.
Die vrou het ‘n medium bou met ‘n ligte gelaatskleur en kort hare.
Sy het ‘n geel t-hemp met die woord “identity” op aangehad saam met ‘n denimromp.
Zwane het ‘n beroep op die publiek gedoen om die polisie in kennis te stel indien hulle die baba of die vrou sien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA