Een maand - 30 polisielede in hegtenis
2010-09-30 12:45
Johannesburg - Dertig Gautengse polisiebeamptes en een openbare aanklaer is in September in hegtenis geneem, het die Gautengse polisiekommisaris, genl. Mzwandile Petros, Donderdag gesê.
Petros, wat by ‘n konferensie van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Muldersdrift gepraat het, het gesê die polisie sal in die lig van sulke gevalle aanhou om ‘n probleem met hul “korporatiewe identiteit” te ondervind.
Hy het gesê ‘n volgehoue poging is nodig om te verseker dat nuwelinge in die polisie goeie beamptes is wat bereid is om misdaad te bestry, selfs in hul eie agterplaas.
“Daar moet gesien word dat ons iets daaraan doen,” het hy gesê en bygevoeg die meeste van dié gevalle het te make met dwelmverwante sake en dossiere wat vermis raak.
Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het ook die konferensie toegespreek. Hy het gesê: “Ons moet van hierdie vrot aartappels (sic) ontslae raak. Ons gaan vir die wêreld wys: Hier is die korrupte polisiebeamptes. Ons het hulle nie nodig nie.”
Hy het gesê daar behoort geen geheimhouding te wees wanneer die polisie misdadige elemente binne die mag uitroei nie.
Hy het heelwat beamptes wat volgens hom “op die roepstem antwoord” om korrupte polisiebeamptes in hegtenis te neem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA