Een dood, vier beseer in Durban-ongeluk
2010-12-26 17:37
Johannesburg – Een man is dood en vier ander mense is beseer toe die motor waarin hulle in New Germany gery het by ‘n afgrond afgeval het, het paramedici in Durban Saterdag gesê.
“Die motor het oor ‘n sypaadjie gegaan en toe by ‘n steil afgrond afgerol,” het Jeff Wicks van Netcare 911 gesê.
Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.
In ‘n ander ongeluk is ‘n man ernstig beseer toe sy voertuig laat Saterdagaand van Tara-weg in die Bluff gegaan en in ‘n muur vasgejaag het.
“Met Netcare 911 se aankoms op die toneel was die voertuig teen die muur vasgedruk en die ernstig beseerde bestuurder was steeds binne die voertuig.”
Die man is op die toneel gestabiliseer en na ‘n hospitaal geneem vir spesialis-behandeling.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA