EU hef nié sanksies teen Zim op nie
2010-09-29 06:39
Brussel. – Dit is duidelik dat pres. Jacob Zuma se beroep op die Europese Unie (EU) om sy sanksies teen Zimbabwe op te hef, op dowe ore geval het.
Zuma het gister op ’n mediakonferensie ná die jaarlikse spitsberaad tussen die EU en Suid-Afrika sy mond stewig toegehou toe ’n vraag hieroor gestel is en dit aan Herman van Rompuy, president van die EU, oorgelaat om te antwoord.
Van Rompuy het gesê die twee kante het saamgestem dat politieke hervormings in Zimbabwe van lewensbelang is. Die EU wil die regering van Zimbabwe alle kanse op sukses gee, en het dus €365 miljoen (sowat R343 miljard) se projekte in die land aangepak.
Die EU het in Julie sy politieke gesprek met Zimbabwe opnuut aan die gang gekry.
Van Rompuy het gesê hy wil daarop wys dat die EU-sanksies nóg gewone mense in Zimbabwe nóg die ekonomiese ontwikkeling in die land skaad.
Dit is suiwer op sekere individue in die regering gemik.
“As daar egter positiewe ontwikkelings kom, sal ons opnuut na die saak kyk,” het hy gesê.
Zuma het ook sy kake stewig bymekaar gehou toe ’n vraag oor die ANC se beoogde mediatribunaal gestel is. Van Rompuy het bloot gesê dit is ’n huishoudelike Suid-Afrikaanse aangeleentheid.
Dit is die derde spitsberaad tussen die EU en Suid-Afrika.
Die vorige twee is in Bordeaux, Frankryk, en Kleinmond in die Wes-Kaap gehou.
Zuma het verder aangekondig dat Suid-Afrika voor die einde van die jaar ’n ooreenkoms met die EU gaan sluit om handel te bevorder.
Net voor die mediakonferensie het Angie Motshekga, die Suid-Afrikaanse minister van basiese onderwys, en Androulla Vassiliou, die EU-kommissaris van onderwys, ’n ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan €122 miljoen (sowat R1,1 miljard) se ontwikkelingshulp vir Suid-Afrikaanse primêre onderwys bewillig word.
Dit is die grootste EU-projek nog in Suid-Afrika.
Zuma was vergesel van Maite Nkoana-Mashabane, die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge, Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, asook Motshekga en nog vier kabinetslede.
Vandag bring Zuma ’n staatsbesoek aan die Belgiese regering.
Hy sal onder meer oë wys by koning Albert II en premier Yves Leterme.
- Beeld