ET-verhoor duur Maandag voort
2012-01-29 19:03
Johannesburg – Die verhoor van twee plaaswerkers wat daarvan beskuldig word dat hulle die regse leier Eugene Terre’Blanche vermoor het, duur Maandag voort in die Hooggeregshof se sitting op Ventersdorp.
“Die kruisverhoor van [Kapt. Jan Louw] wat die toneel besoek het sal voortgaan. Daarna sal ander getuies ook geroep word om verdere bewyse te verskaf,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Sondag gesê.
“Ons is steeds gelukkig met hoe die verrigtinge sover afloop.”
Die NVG is vol vertroue dat ‘n skuldigbevinding gemaak sal word, het hy gesê.
Chris Mahlangu en ‘n minderjarige word daarvan beskuldig dat hulle die leier van die Afrikaner Weerstandsbeweging in sy plaashuis in Noordwes vermoor het in April verlede jaar. Hy was 69 jaar oud.
Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Mahlangu beweer hy het in selfverdediging opgetree. Die tiener ontken betrokkenheid by die moord.
Die hof het in Oktober gehoor geen patoloog is na die moordtoneel uitgeroep nie en dat bewyse dalk van die lyk verwyder is.
Om nie ‘n patoloog kontak nie, is ‘n oortreding van regulasies en “hoogs ongewoon”, het die patoloog dr. Ruweida Moorad aan die hof gesê.
Die bestuurder van die lykshuis is ook nie gekontak nie.
Moorad het gesê in foto’s verskyn ‘n vloeistof wat soos semen lyk op Terre’blanche se lyk en dít is dalk afgevee.
Norman Arendse, vir die verdediging, sê hy vermoed die semen is met opset verwyder.
Moorad het gesê haar lykskouing op Terre’blanche se lyk is op 6 April uitgevoer.
Sy het gesê daar was geen akute beserings aan Terre’Blanche se rektum nie en slegs ‘n “lineêre skaafwond” aan sy skrotum. Daar was spekulasie dat seksuele aanranding plaasgevind het, veral aangesien Terre’Blanche se broek afgetrek was toe hy gevind is.
Terre’Blanche het waarskynlik gelê toe hy aangeval is, het sy gesê. Hy het ‘n kapwond aan sy kop gehad.
“Dit is my mening dat die besering aan die kop die eerste besering was, gevolg deur die gesig en toe die bors en dye,” het Moorad gesê.
Terre’Blanche het verskeie ernstige beserings aan, onder meer, sy kopbeen, ribbe en onderkaak opgedoen. Daar was ook kneusmerke en snye aan verskeie ander dele van sy liggaam. Al die beserings was aan die voorkant van die liggaam.
Moorad het geen “tipiese” verdedigingsbeserings, wat sou aandui dat Terre’Blanche sy aanvallers probeer afweer het, gevind nie.
Sy het saamgestem dat Terre’Blanche se wonde ooreenstem met dié wat deur ‘n panga veroorsaak kon word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA