ET-verhoor: 'Minderjarige se ma was teenwoordig'
2012-01-31 22:09
Ventersdorp – Die ma van ‘n minderjarige wat beskuldig word van die moord op die regse leier Eugene Terre’Blanche was teenwoordig toe hy die misdaadtonele uitgewys het, het die Hooggeregshof in Ventersdorp Dinsdag gehoor.
Die polisiebeampte lt. kol. Frans Jacobs, wat saam met die tiener gegaan het toe hy die misdaadtonele op 4 April 2010 uitgewys het, het gesê die jeugdige se ma was reeds teenwoordig toe hy by die Klerksdorp-polisiekantoor gearriveer het.
Chris Mahlangu en die minderjarige word daarvan beskuldig dat hulle die AWB-leier aangerand en doodgemaak het in sy plaashuis buite Ventersdorp op 3 April 2010.
Albei pleit onskuldig op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Mahlangu beweer hy het in selfverdediging opgetree. Die tiener ontken enige betrokkenheid by die moord.
Jacobs het Dinsdag getuig in ‘n verhoor binne ‘n verhoor oor die geldigheid van bekennings wat die twee beskuldigdes gemaak het.
Norman Arendse, die tiener se regsverteenwoordiger, het gesê sy grondwetlike regte en regte volgens die Kinderwet is “sistematies geskend”.
Regsverteenwoordigers vir die jeugdige en Mahlangu wil hê die uitwysings op die toneel en die bekennings moet nie voor die hof gelê word nie.
Jacobs het gesê hy het aan die jeugdige se ma verduidelik dat sy daar was om haar kind se belange te beskerm en dat sy hom ter enige tyd kan keer om vrae te beantwoord.
Hy het getuig dat die jeugdige se regte ook aan hom voorgelees is. Hy het ook die tiener ingelig dat hy die reg tot ‘n regsverteenwoordiger het en indien hy nie een kan bekostig nie, die staat een vir hom beskikbaar sal stel.
“Hy [die jeugdige] het gesê hy wou nie in dié stadium ‘n regsverteenwoordiger hê nie.”
Hy het aan die jeugdige gesê enige inligting wat hy verskaf en foto’s van die toneel kan teen hom in die hof gebruik word en kan tot tronkstraf lei.
Die jeugdige is gevra of hy seker is hy wil nie ‘n regsverteenwoordiger wil hê nie, maar hy het volgehou dat hy nie een wil hê nie.
Hy is toe gevra waarom hy besluit het om die misdaadtonele uit te wys, waarop hy geantwoord het: “Ek voel ek wil die waarheid vertel. Ek voel jammer vir my ma.”
Jacobs het gesê die jeugdige het ouer voorgekom as wat hy was. Hy het op ‘n volwasse wyse gepraat en vrae beantwoord.
“Maar ek het geweet hy is minderjarig en het hom so behandel.”
Die jeugdige en sy ma is na die moordtoneel geneem.
Ná die uitwysing is die notas in Afrikaans aan die jeugdige teruggelees en hy is gevra of hy dit verstaan het. Hy het gesê hy het nie alles verstaan nie.
Sy ma het gesê sy verstaan Afrikaans goed en het alles gehoor.
Jacobs sal Woensdagoggend onder kruisverhoor getuig.
Arendse het vroeër Dinsdag Terre’Blanche se vrou, Martie, onder kruisverhoor geneem.
Sy is gevra of sy geweet het of haar man sy werkers mishandel het.
“Nie waarvan ek weet nie,” het sy geantwoord.
Sy is ook oor haar man se humeur gevra.
Martie het gesê haar man was baie kalmer sedert hy op 11 Junie 2004 huis toe gekeer het nadat hy ‘n tronkstraf van drie en ‘n half jaar uitgedien het.
Hy is in 1996 skuldig bevind aan poging tot moord nadat hy ‘n vulstasie-beampte, Paul Motshabi, aangerand het.
Arendse het gesê dat baie mense in die Motshabi-verhoor getuig het hulle is bang vir Terre’Blanche en dat hy ‘n geskiedenis van geweld het. Die landdros het Terre’Blanche beskryf as iemand wat maklik kwaad geword het, het Arendse gesê.
“U edele, my man was nooit gewelddadig teenoor my nie,” het Martie gesê toe Arendse gevra het of sy wou gehad het hy moet ophou drink weens sy humeur.
Hoewel sy gesê het sy weet nie veel daarvan dat die AWB die speurder Piet Byleveld gevra het om Terre’Blanche se moord te ondersoek nie, sal sy ook enigiets doen om te weet waarom haar man vermoor is.
“Ek weet steeds nie waarom nie,” het sy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA