‘ET-seksbewerings van dag een daar’ – Cele
2010-04-18 07:01
Moffet Mofokeng en Erna van Wyk
Johannesburg - Die raaisel verdiep oor wat presies gebeur het toe Eugène
Terre’-Blanche, AWB-leier, op Paassaterdag op sy plaas,
Witrandjiesfontein, in Noordwes vermoor is.
Bewerings en ontkennings dat die moord met seks verband gehou het,
woed sedert verlede Saterdag.
In ’n onderhoud met City Press, Rapport se susterkoerant, het genl.
Bheki Cele, polisiehoof, erken dat die seksbewerings sedert die “eerste
dag” daar was.
Cele het saam met mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, die
toneel 12 ure ná die moord besoek.
“Die vraag of seks betrokke was, was daar van die eerste dag af,
want daar is aan ons gesê sy broek is tot by sy knieë afgetrek en was
nat van semen.
“Ons weet egter tot vandag toe nie waar die vraag oor die kondoom
vandaan kom nie.
“Die kondoomkwessie het nie ter sprake gekom nie, selfs nie eens op
Vrydag 9 April toe ek begrafnis toe is en ná die tyd ’n inligtingsessie
(deur die ondersoekspan) bygewoon het nie,” sê Cele.
Die media word oorval deur inligting en bewerings deur diegene wat
by die ondersoek en hofsaak betrokke is.
Meer inligting oor die bewerings sal waarskynlik tydens die twee
verdagtes se verhoor duidelik word.
Dit sal egter slegs moontlik wees as verskeie mediagroepe,
waaronder Media24, se aansoek dat die verhoor in ’n ope hof aangehoor
word, sou slaag.
Dié aansoek is uitgestel totdat die verhoor begin.
-
Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.