ET se stem bulder weer
2010-05-23 07:52
Johannesburg - ’n Bekende bulderstem klink op uit die graf.
Twee maande ná die
dood van mnr. Eugène Terre’Blanche verskyn sy lewensverhaal eerskomende
week in sy eie woorde.
Eugène Terre’Blanche: My storie is ’n
outobiografie wat die AWB-leier met die hulp van die skrywer Amos van
der Merwe voltooi het. Hy het die finale weergawe goedgekeur kort
voordat hy vermoor is.
In die boek skryf hy ontroerend oor sy
tronkdae, hy vertel hoe hy in sy laaste dae gereed was om militarisme af
te sweer en hy onthul perspektiewe op van die mees omstrede episodes
uit sy loopbaan (telkens met die bewering dat sy nederlae die gevolg van
die NP, die media, oudpres. FW de Klerk en genl. Constand Viljoen se
komplotte was).
Hy skryf onder meer oor:
- Die
teer-en-veer van prof. Floors van Jaarsveld: Terre’Blanche beskryf dié
voorval as die aanvang van sy openbare lewe.
- Sy vader, mnr. De
Ville Terre’Blanche, het die teer-en-veerdery glo voorgestel en sy
moeder het kussings oopgeknip om die vere te verskaf.
- Die Slag
van Ventersdorp: Terre’Blanche “bewys” De Klerk het dié voorval
georkestreer om die AWB ekstremisties te laat lyk en die NP in
vergelyking “gematig”.
- Die inval van Bophuthatswana:
Terre’Blanche beskryf sy onderhandelings met oudpres. Lucas Mangope, die
vlug uit Mbabane en gif wat iemand hom na bewering die aand voor die
skermutselings ingegee het. Weer eens maak hy die gevolgtrekking dat die
AWB deur die NP soontoe gelok is (soos muise “op pad na die
valletjie”).
- Ook die wyd gepubliseerde voorval toe drie
AWB-lede tydens die vlug doodgeskiet is, is volgens hom deur die
“ANC/NP-alliansie” georkestreer om die boodskap uit te dra dat
Afrikaners wat vir hul regte opstaan “soos ’n bees met runderpes
afgemaai” sal word.
- Die dag toe hy in Pretoria van sy perd
afgegooi is: “Selfs die tronkstraf het my nie soveel geskaad as daardie
stukkie nuus nie.
“Die spot en vernedering van daardie dag sal
met my sterf, en seker ook nie eens dan nie.”
Tussendeur is daar
talle kleiner onthullings, insluitende dat Terre’- Blanche glad nie so
’n groot aanhanger van Adolf Hitler was soos baie mense meen nie.
“Hitler? Ag nee wat, kom ons wees nou realisties,” verklaar hy
sarkasties.
Voorts vertel hy van die vriendskap wat hy in die
tronk met ’n Tswana-man genaamd Thami gesmee het. “Ons twee het nog
kontak en sal seker vriende bly so lank as wat ons lewe.”
Net die
naam Jani Allen kom nêrens in die boek voor nie.
Terre’Blanche
en Van der Merwe het meer as twee jaar lank saam aan die manuskrip
gewerk.
Volgens mnr. Hendrik Venter van die boek se uitgewer,
Griffel, sal die outobiografie ook as ’n e-boek te koop wees – blykbaar
’n eerste in Afrikaans.
- Rapport