E.T. se gesin ‘kry swaar en is afgesonder’
2010-04-15 10:59
Ventersdorp – Eugène Terre’Blanche se gesin vermy steeds die buitewêreld en veral die media ná die moord op die voormalige AWB-leier oor die Paasnaweek.
Martie Terre’Blanche en haar dogter, Bea, het Woensdag nie die hofverrigtinge waar Chris Mahlangu (27) en ’n seun (15) in verband met die moord verskyn het, bygewoon nie.
By hul netjiese huis in Rothstraat was die gordyne toegetrek en was daar geen teken van lewe te bespeur nie. “Die familie kry swaar en is afgesonder. Dis ’n moeilike tyd vir hulle,” het André Visagie, sekretaris-generaal van die AWB, gesê.
Hy het gesê “al die stories rondom die Terre’Blanche-moord” is ’n poging om die ware motief vir die moord te probeer verdoesel.
“Ek weet hy het dikwels plaas toe gegaan en soms ook daar oorgeslaap. Dit was niks vreemds gewees nie. ’n Mens het hom maar altyd hier in die dorp rond op sy scootertjie sien ry. Die tannie is ook maar altyd alleen in die dorp gewees; ek sien haar baie keer hier loop,’’het ’n dorpenaar gesê oor die gesin, wat tot op hede weinig media-onderhoude wou toestaan.
Intussen blyk die enigste kontak wat Terre’Blanche en Bea met die buitewêreld het via Facebook te wees. Albei het verlede Donderdag inskrywings gemaak en almal bedank vir hul boodskappe, oproepe en gebede.
Bea het in haar inskrywing gesê sy en haar ma waardeer almal se bystand.
- Die Burger