ET-saak: Jeugdige ontken handtekening is syne
2012-02-01 13:25
Ventersdorp – Die jeugdige wat aangekla word van die moord op die regse leier Eugene Terre’Blanche het ontken dat die handtekening wat hy na bewering op ‘n verklaring aan die polisie aangebring het syne is.
Zola Majavu, die jeugdige se regsverteenwoordiger, het Woensdag gesê sy kliënt ontken dat die handtekening syne is.
Hy het lt. kol. Frans Jacobs tydens ‘n kruisverhoor in die hooggeregshof in Ventersdorp ondervra.
Die jeugdige en Chris Mahlangu word daarvan beskuldig dat hulle Terre’Blanche in April 2010 in sy plaashuis in die Noordwes vermoor het.
Albei het onskuldig gepleit op die moord. Mahlangu beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het. Die tiener het betrokkenheid in die misdaad ontken.
Jacobs, wat saam met die tiener gegaan het om die misdaadtonele uit te wys, het Woensdag gesê hy het die tiener gevra of die handtekening syne was en hy het dit bevestig.
Majavu het uitgewys dat geen proefbeampte vir die kind aangestel is tot nadat hy die misdaadtonele uitgewys het nie.
Jacobs sê hy het aangeneem dat al die regte prosedures deur sy mede-beamptes gevolg is voordat hy in kontak met die tiener gekom het.
Hy het getuig by ‘n verhoor binne ‘n verhoor om die geldigheid van bewyse wat deur die twee beskuldigdes gegee is vas te stel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA