ET-ondersoeker vas vir geweld, maar bevorder
2010-05-12 12:08
Nicolize van der Walt, Beeld
Klerksdorp – Die ondersoekbeampte in die Eugène Terre’Blanche-moordsaak is binne ’n kwessie van ’n week in hegtenis geneem én blykbaar van kaptein tot luitenant-kolonel bevorder.
Kapt. Tsletsi Mano, bevelvoerder van die eenheid teen ernstige geweldmisdrywe in Noordwes, is glo Dinsdag oor die bevordering ingelig.
Dit kom kort nadat Mano en vyf ander lede van die eenheid teen ernstige geweldmisdrywe Vrydag in Klerksdorp in hegtenis geneem is.
Een van dié lede, kapt. Ismael Dawood, is twee jaar gelede direk van konstabel tot kaptein bevorder.
Die nasionale vervolgingsgesag het die opdrag vir die arrestasies gegee.
Mano is gearresteer weens aanranding met die opset om ernstig te beseer en Dawood het vyf soortgelyke klagte teen hom. Dit spruit uit voorvalle waar hulle verdagtes na bewering ernstig aangerand het tydens ondervraging en tydens polisie-aanhouding.
Die ses lede het Vrydag in die hof verskyn en is op borgtog van R500 elk vrygelaat. Die saak is uitgestel tot
8 Junie.
Kol. Musa Zondi, woordvoerder van die Valke, het gister gesê: “Dit het niks met jou te doen nie. Die sake teen hom is hangende en waarom moet hy gestraf word vir iets waaraan hy nog nie skuldig bevind is nie?
“Ek gaan ook nie vir jou uitvind of hy bevorder is of nie, want ek kan nie sien wat jy met die inligting wil doen nie.”
Zondi het vroeër vandeesweek gesê niemand sal geskors word nie.
-Beeld