ET-moordtoneel 'opgemors'
2010-04-13 11:42
Johannesburg – Volgens ‘n bekende forensiese ondersoekbeampte is die moordtoneel waar die ontslape AWB-leier Eugene Terre’Blanche gesterf het, opgemors ná besoekers daarmee gepeuter het.
Dit kom nadat die AWB se sekretaris-generaal, Andre Visagie, erken het dat hy self die bebloede matras en kussing van die bed verwyder het waar Terre’Blanche se liggaam gevind is.
Verslaggewers van The Star het glo ook twee dae na die moord ‘n menslike tand in die huis gevind. Daarna het honderde mense die huis besoek om te sien waar Terre’Blanche gesterf het. Daar was nog verskeie “stukkies brein” wat nie skoongemaak is nie.
Maar volgens die Valke, wat die ondersoek nou oorgeneem het, is dit nie die polisie se werk om die liggaamsdele van ‘n moordtoneel te verwyder nie.
Terre’Blanche is op 3 April wreedaardig in sy plaashuis met ‘n panga en knopkierie vermoor. Sy vermeende moordenaars het hulself na die voorval aan die polisie oorhandig.
Lees meer hier.