ET-moord: Vrae oor polisie-opleiding
2012-01-30 13:05
Ventersdorp – Opleiding in die toepassing van die Kindergeregtigheidswet is Maandag tydens die verhoor van twee plaaswerkers wat teregstaan weens die moord op Eugene Terre'Blanche in die hooggeregshof in Ventersdorp opgebring.
Kapt. Jacobus Rautenbach, een van die beamptes wat ná die moord by Terre'Blanche se huis was, is gevra oor die opleiding wat die polisie ontvang het.
Een van die twee plaaswerkers wat aangekla word van die moord op Terre'Blanche was ‘n jeugdige.
Adv. Norman Arendse het Rautenbach ondervra oor die prosedures wat gevolg is in terme van die Kindergeregtigheidswet.
Rautenbach is herhaaldelik gevra wanneer en waar opleiding oor die vereistes van die nuwe wet plaasgevind het.
“Ek kan nie vir u sê waar en wanneer opleiding ontvang is nie, maar dit is,” het Rautenbach gesê.
Chris Mahlangu en ‘n 17-jarige seun word daarvan beskuldig dat hulle die voormalige leier van die AWB in April 2010 in sy plaashuis geslaan en doodgekap het.
Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Mahlangu beweer hy het uit selfverdediging opgetree en die tiener ontken betrokkenheid in die misdaad.
Arendse hou vol dat die beamptes wat hulle in hegtenis geneem het eers ná Terre'Blanche se moord op 3 April die opleiding ontvang het.
Dit beteken dat die beamptes nie kon voldoen het aan die vereistes van die wet nie, het hy gesê.
“Ek het in geen stadium vermoed dat die regte van die jeugdige wat aangekla is, geskend is nie,” het Rautenbach gesê.
Hy het bygevoeg dat hy nie kan sê of die jeugdige se regte geskend is nie. Hy was nie betrokke in daardie deel van die ondersoek nie, aangesien hy nie op die misdaadtoneel was nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA