ET-moord: Media toegelaat in hof
2010-04-14 11:10
Johannesburg – Die media sal toegelaat word om die borgtogaansoek van die 28-jarige man by te woon wat verdink word van die moord op die ontslape AWB-leier, Eugene Terre’Blanche.
“Die media sal toegelaat word by die borgtogaansoek van Chris Mahlangu,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), buite die landdroshof in Ventersdorp gesê.
Die 15-jarige verdagte sal nie aansoek doen om borgtog nie.
“Ek kan nie sê waarom die minderjarige besluit het om nie aansoek te doen nie,” het Mhaga gesê.
“Die verhoor van die minderjarige is onderweg en ons sal moet wag om te sien hoe die saak hanteer sal word. Hierdie is die eerste keer wat ‘n saak gedoen word onder die Wet op Kindergeregtigheid wat onlangs inwerking gestel is.”
Na afloop van sy voorlopige, private verhoor sal die minderjarige na ‘n plek van veiligheid geneem word. Nadat hy uit die hof geneem is sal die media en die publiek toegelaat word om Mahlangu se borgtogaansoek in die hof by te woon.
Die hof is egter baie klein en kan slegs vyf verslaggewers akkommodeer.
As gevolg van die nuutste verwikkelinge sal etv, Media 24, Independent Newspapers en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) hulle aansoek om die verhoor in 'n ope hof te laat plaasvind vir eers uitstel.
- Sapa