E-tol-saak begin in grondwethof
2012-08-15 08:30
Johannesburg – Die konstitusionele hof sal Woensdag hoor hoekom hy tussentydse interdik, wat die implementering van die e-tolstelsel verhoed, moet hersien.
Luidens die interdik wat op 28 April deur die Pretoriase hooggeregshof toegestaan is, moet 'n volledige hersiening gedoen word voor die e-tolstelsel geïmplementeer kan word.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die nasionale tesourie appelleer teen die interdik.
Die Opposition to Urban Tolling Alliance (Outa), aan wie die interdik toegestaan is, sal dit teenstaan.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het by die konstitusionele hof aansoek gedoen om 'n tersydestelling van die hofbevel wat Sanral verhoed om die e-tolstelsel te implementeer.
Gordhan het aangevoer dat regter Bill Prinsloo die beginsel van die verdeeldheid van magte geïgnoreer. Hy het gesê die besluit om die e-tolstelsel te stop, sal die ekonomie negatief beïnvloed.
Outa het egter gesê Sanral is nog nie gereed om die projek te implementeer nie.
Die Demokratiese Alliansie het verlede week aansoek gedoen om by die saak aan te sluit.
Die Pretoriase hooggeregshof sal op 26 November verdere argumente oor die saak aanhoor.
Die projek sou op 30 April begin, maar is ná 'n vergadering tussen die ANC en Cosatu, uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA