Dwelms in Jub Jub se urien gevind
2011-05-24 11:17
Johannesburg – 'n Aantal dwelms is in die urienmonsters van die moordbeskuldigdes Molema "Jub-Jub" Maarohanye en Themba Tshabalala gevind, het die Protea-landdroshof Dinsdag gehoor.
Jose van Rooyen, die forensiese ontleder wat dié monsters getoets het, het aan die hof gesê die eerste monster het onder meer kokaïne, kodeïen en parasetamol bevat.
Die tweede monster het spore van onder meer kokaïne, kodeïen, parasetamol, nikotien en kafeïen bevat.
"Dit is almal dwelms," het sy gesê.
Van Rooyen is 'n forensiese ontleder vir die departement van gesondheid in Johannesburg.
Sy het gesê die urienmonsters toon nie die vlakke van die dwelms wat teenwoordig is nie.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Van Rooyen het Dinsdag tydens kruisondervraging gesê al die toerusting wat gebruik is, is gesertifiseer en dat die kwaliteit daarvan getoets is voor die monsters ontleed is.
Sy het aan die hof gesê sy is 'n kenner op die gebied van forensiese ontleding, en nie 'n toksikoloog wat kan sê hoe die dwelms 'n persoon se gedrag affekteer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA