'Dwelmmuil' was wel Wits-student
2011-12-14 18:02
Johannesburg – Die familie van die vermeende dwelmmuil Nolubabalo Nobanda, wat in Thailand in hegtenis geneem is nadat sy glo kokaïne in haar rastalokke versteek het, sê sy is wel 'n Wits-student ten spyte dat dié universiteit geen rekord van haar het nie.
"My kind was vir drie jaar by die Witwatersrand-universiteit geregistreer en was besig om vanjaar by Unisa klaar te maak, het haar pa, Partick Ncepu gesê.
"Ek kan selfs vir julle haar studente nommer wys."
Vroeër het Wits gesê sy is nie as student by die universiteit geregistreer nie.
"Wits-universiteit wil op rekord plaas dat me. Nolubabalo Nobanda, 'n vermeende dwelmmuil, nooit as 'n student by Wits-universiteit geregistreer is nie," het Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, in 'n verklaring gesê.
"Die universiteit kan niemand onder dié naam opspoor nie."
Wits het Woensdagmiddag 'n tweede verklaring uitgereik om te sê dat, volgens nuwe inligting en 'n verdere ondersoek, Nobanda wel in 2007 as student by die universiteit geregistreer was.
"Na 'n verdere ondersoek kan die universiteit bevestig dat me. Nolubabalo Nobanda as 'n student in 2007 geregistreer is. Ons het geen rekord dat sy haar registrasie vanaf 2008 hernu het nie. Die universiteit vra om verskoning vir enige verwarring rakende die aangeleentheid kon onstaan het," het die verklaring gelui.
The Star het Woensdag berig dat Nobanda volgens haar Facebook-profiel "iets in die regsveld" by die Wits-universiteit studeer.
Die 23-jarige is Maandag in Thailand deursoek nadat beamptes kort ná haar aankoms 'n wit poeier in haar hare opgemerk het.
Die polisie het 1,5 kg kokaïne met 'n geraamde straatwaarde van VSA$150 000 in haar rastalokke gevind.
Sy het aan owerhede erken dat sy die dwelms gesmokkel het en gesê sy is gehuur om die kokaïne na 'n koper by 'n hotel in Bangkok te neem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA