Dwelmmuil 'n 'slagoffer van mensehandel'
2012-06-22 10:50
Johannesburg – Die veroordeelde Suid-Afrikaanse dwelmmuil, Nolubabalo Nobanda, sou vermoor geword het as sy geweier het om dwelms na Thailand te smokkel, is Vrydag berig.
The Star Africa Edition berig dat Nobanda, wat onlangs deur ‘n hof in Bangkok tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is, beweer sy is nie ‘n dwelmsmokkelaar nie, maar ‘n slagoffer van mensehandel deur buitelanders in Suid-Afrika.
Sy beweer dat toe sy uitgevind het daar word van haar verwag om dwelms te smokkel, het sy probeer om uit die transaksie te kom, maar sy is gedreig.
“As die Nigeriërs uitgevind het ek gaan nie die werk doen nie, kon hulle my selfs vermoor het,” het Nobanda in ‘n verklaring gesê.
Sy sê ‘n goeie vriend van haar, Sulezo Rwanqa, het ‘n werk gekry by ‘n ander vriend se broer om haarprodukte van Brasilië in Suid-Afrika te verkoop.
Met Nobanda and Rwanqa se aankoms in Brasilië het hulle ‘n ander Suid-Afrikaanse vrou ontmoet. Sy was glo woedend dat die twee te jonk was om die gevaarlike werk wat vir hulle uitgesit is te verrig.
Nobanda sê die “opleiding” vir die dwelmsmokkelary het gevolg en het begin met die sluk van kondome wat met dwelms gevul is, alhoewel sy nie die kondome binne kon hou nie.
Die idee om die dwelms in haar hare te sit, het gevolg.
Toe sy in Thailand land, was dit asof die immigrasie-beamptes haar verwag het.
“Hulle het reguit na my gestap en my na ‘n aparte vertrek geneem.”
Beamptes het 1,4 kg kokaïen in Nobanda se hare gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA