'Dwelmmuil' het ma oor haar reis ingelig
2011-12-17 10:57
Grahamstad – Die vermeende dwelmmuil Nolubabalo Nobanda se ma het geweet haar dogter gaan na Brasilië, het sy Vrydag gesê.
"Ja... Nobanda het my gebel en gesê sy is by die Kaapstadse Internasionale Lughawe en is op pad om na Brasilië te vlieg. Toe ek haar vra hoekom, het sy gesê sy gaan vir 'n vakansie," het Honjiswa Mcepu gesê.
Volgens Mcepu het Nobanda haar twee dae nadat sy vertrek het weer gebel om te sê sy is veilig in Brasilië.
"Sy het gevra wat sy vir my moes koop. Ek het toe gesê sy kan enigiets koop."
Nobanda het toe aan haar ma gesê sy sal na 10 Desember terugkeer huistoe.
"Sy het niks aan my van Bangkok gesê nie. Ek het niks daarvan geweet nie, maar ek het geweet sy is oorsee," het Mcepu gesê.
Die 23-jarige Nobanda is Maandag by Bangkok se Suvarnabhumi-lughawe in hegtenis geneem nadat beamptes kort ná haar aankoms 'n wit poeier in haar hare opgemerk het.
Die polisie het 1,5 kg kokaïne met 'n geraamde straatwaarde van VSA$150 000 in haar rastalokke gevind.
Sy het aan owerhede erken dat sy die dwelms gesmokkel het en gesê sy is gehuur om die kokaïne na 'n koper by 'n hotel in Bangkok te neem.
Intussen het 'n vriendin van Nobanda, Sulezi Rwanqa (24), wat op dieselfde vlug na Thailand gegaan het, laat weet sy is gestrand in Bangkok.
Rwanqa se familie sê sy het hulle die afgelope week drie keer gebel en gevra dat hulle haar moet help.
"Ons het nie geweet wat om te doen nie omdat sy teen Woensdag gesê het sy sal 'n plan maak om by die huis te kom. Maar vandag (16 Desember) het sy gebel om te sê sy is steeds gestrand. Sy het ook gesê sy het nie meer kos of geld nie," het haar ma, Noskuta Rwanqa, gesê.
Die familie het die Suid-Afrikaanse ambassade in Thailand gesmeek om hulle te help.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA