Dwelmfabriek in Klerksdorp ontdek
2010-08-21 14:57
Johannesburg – ‘n Dwelmfabriek is in Klerksdorp ontdek en twee mense in hegtenis geneem, het die Noord-Wes-polisie Saterdag gesê.
“Die ontdekking is gemaak ná ‘n intensiewe geheime soektog, nadat die polisie se elite-eenheid ‘n wenk gekry het,” het polisiewoordvoerder lt.kol. Lesego Metsi gesê.
Altesaam 21 kilogram van wat vermoedelik finale produk Tik ter waarde van R10 miljoen is, is gevind.
Twee mans is binne in die huis gevind en in hegtenis geneem. Die polisie het ook chemikalieë, rou materiaal vir dwelm-vervaardiging en toerusting vir dwelm-vervaardiging gevind.
Volgens Metsi gaan die polisie die “operasionale netwerk van hierdie dwelm-vervaardigers en -netwerk” ondersoek.
Twee mans, 27 en 28 jaar oud, sal Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklag van dwelm-vervaardiging en die instandhouding van ‘n dwelmfabriek.
- Sapa