Beeka-moord: Motief 'n raaisel
2011-03-22 09:08
Kaapstad – Die Wes-Kaapse polisie het Dinsdagoggend bevestig dat die vermeende dwelmbaas Cyril Beeka die afgelope naweek doodgeskiet is.
“Ek kan bevestig dat dit Cyril Beeka was wat in die skietery dood is,” het polisiewoordvoerder kapt. Joe Wilson gesê.
Volgens Wilson is geen verdagtes tot dusver geïdentifiseer nie.
“Ons kan in dié stadium slegs bespiegel oor die motief,” het Wilson gesê.
Volgens Wilson is Beeka se bestuurder in ‘n ernstige maar stabiele toestand nadat hy ook geskiet is.
Die Burger het vroeër berig dat Beeka die bestuurder van die motor was. Die koerant het ook berig dat die beseerde persoon Beeka se passasier was.
Beeka (49) is laat Maandagmiddag naby die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in ’n vermeende sluipmoord doodgeskiet.
Hy is doodgeskiet toe twee mans op ‘n motorfiets op sy silwer BMW losgebrand en weggejaag het.
Beeka het glo sterk bande met ANC-beamptes soos Mo Shaik, hoof van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), gehad.
The Star het verlede jaar berig Beeka het die hoofverdagte in die Lolly Jackson-moordsaak op die aand van sy dood gesien.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA