Durbanville-ontploffing: Slagoffers se name bekend
2013-02-14 14:33
Kaapstad – Die mans wat in ‘n gasontploffing in Durbanville, Kaapstad, gesterf het, se name is bekendgemaak, het ‘n stadsbeampte gesê.
Wilfred Solomons-Johannes, ‘n woordvoerder van die Stad Kaapstad, sê Martin O'Connor, ‘n tegnikus, is dood toe ‘n ontploffing by die Atlas Gardens-fabriek plaasgevind het.
Saji Thekkemalayil Chandrasekharaan het ‘n been in die voorval verloor en het oornag in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Twee ander mense sterk tans in die intensiewe sorgeenheid aan.
Brandon Pretorius se bene is geamputeer. Hy is in ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal.
Jean Rossouw se toestand is ernstig, maar stabiel.
Volgens die stad se woordvoerder van die brand- en reddingsdienste, Theo Layne, het vier ander mense ligte beserings opgedoen.
Die ontploffing het Woensdag tydens onderhoudswerk by die Global Gases-gebou in Contermanskloofweg plaasgevind.
Die oorsaak van die ontploffing word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA