Duisende wys steun vir Pta, Voortrekkermonument
2011-11-13 13:48
Pretoria – Meer as 30 000 mense het by die Voortrekkermonument in Pretoria saamgetrek om hul steun vir die behoud van Pretoria se naam en die monument te wys, het AfriForum in ‘n mediaverklaring gesê.
Die skare het Saterdag 'n Afrikaanse musiekfees by die monument bygewoon wat deur die burgerregtegroep ter viering van Pretoria se 156ste verjaardag en ter behoud van die stad se naam gereël is.
Die skare het ook eenparig hul steun getoon aan AfriForum se veldtog “Red ons Monument” wat tydens die fees van stapel gestuur is om te verhoed dat die staat die monument se subsidie verder sny en die publiek aan te moedig om die monument finansieel te ondersteun.
Die staat het vanjaar die Voortrekkermonument se subsidie met R900 000 gesny en is ook traag om die res van die subsidie uit te betaal, lui die verklaring.
Bekendes soos Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Lianie May, Jay, Elizma Theron, Sorina (Flooze van 7de Laan) en Armand Hofmeyr tel onder die 28 bekendes wat by AfriForum se musiekfees opgetree het.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys die feit dat letterlik duisende mense by die Voortrekkermonument opgedaag het, dat mense baie sterk oor die stad se naam en die Voortrekkermonument voel en dat hulle nie gediend is van knaende pogings om Pretoria se naam te verander en die monument se staatsubsidie te sny nie.
“Die regering moet hiervan kennis neem,” het Kriel bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24