Duisende wapens in gesmelt
2010-05-03 07:26
Kaapstad - ’n Smeltoond vir metaal by ’n skrootwerf in Kuilsrivier het Saterdag oortyd gewerk toe altesame 12 628 vuurwapens deur die polisie vernietig is.
Die polisie het beslag gelê op sommige van dié wapens, maar talle daarvan is vrywillig deur lede van die publiek ingegee.
Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het gesê die wapenvernieting was ingevolge die Wet op Vuurwapens. Dit is daarop gemik om aan die publiek te toon dat vuurwapens wat ingegee is of waarop beslag gelê is, inderdaad vernietig word.
“Heelparty mense sê hulle is bang hulle word met hul eie vuurwapens geskiet nadat hulle dit ingelewer het,” het Traut aan Die Burger gesê terwyl stapels vuurwapens met behulp van ’n magnetiese hyskraan opgetel en in ’n smelter laat val is. Dit het enigiets van rewolwers en pistole tot jaggewere ingesluit. Ook is talle messe en kapmesse gesmelt.
Brig. Peter Jacobs, provinsiale bevelvoerder van vuurwapens, drank en tweedehandse goedere, was in beheer van die tweede vernietigingsproses die afgelope boekjaar. Hy het gesê altesame 28 000 vuurwapens is in die twee prosesse vernietig.
Die eerste is einde Februarie in Saldanha gehou.
Die staal van die wapens wat in die oond gesmelt word, word in vorms gegiet en aan die skrootwerfeienaar oorhandig.
Die hele proses word deur lede van ’n spesiale taakspan van die polisie gemonitor. Verlede jaar is ook twee wapenvernietigingsprosesse uitgevoer.
- Die Burger