Duisende rande met Bees se kaart geblaas
2010-09-07 06:35
Gerhard Pretorius en Sapa
Pretoria - Die man wat Bees Roux, Blou Bul-stut, se kredietkaart na bewering gesteel het, het glo nie net honderde rande se kitskos daarmee gekoop nie, maar ook duisende rande se drank, sigarette en elektriese toestelle.
Meer as R9000 is by die beweerde bedrog betrokke.
Vusi Ntloko (29) van Mamelodi-Oos is Vrydagmiddag in hegtenis geneem nadat hy in besit van die Blou Bul-stut se beursie getrap is. Hy het gister in die Pretoriase landdroshof op 12 aanklagte van bedrog en een van diefstal verskyn.
Ntloko is glo met Roux se beursie met sy debiet-, krediet- en Makro-kaart in, betrap.
Luidens die klagstaat het hy Roux se kaarte die oggend van 27 Augustus om 02:36, toe Roux glo ’n metropolisieman, sers. Ntshimane Johannes Mogale, doodgeslaan het, tot omstreeks 16:32 daardie middag gebruik.
Hy het glo in dié tyd altesaam R9314,65 se transaksies met die kaarte aangegaan of daarmee probeer koop. Hy het onder meer drank, sigarette, kos en elektriese toestelle gekoop.
Luidens die klagstaat het Ntloko by drankwinkels, slaghuise, ’n Makro en by die KFC- en McDonalds-kitskosplekke in Mamelodi, Monumentpark, Silverton en Woodhill rondgegaan om die goed te koop.
Een klag van bedrog is vir elk van die 12 kere wat hy glo die kaarte gebruik het, teen hom aanhangig gemaak.
Adv. Matric Luphondo, hoofstaatsaanklaer, het die hof gevra om Ntloko nie op borgtog vry te laat nie, omdat die staat vrees dat hy met “materiële bewyse kan lol” en omdat van die goedere by sy eie werkplek, Makro, gekoop is.
“Groot bedrae geld is by Makro bestee,” het Luphondo gesê. Van dié goed wat gekoop is, is nog nie teruggevind nie.
Luphondo het gesê die staat stel nog ondersoek in na die motor wat in die beweerde bedrog gebruik is.
Ntloko het glo die kaarte op die toneel, waar Mogale dood is, opgetel.
Rudi Krause, Roux se regsverteenwoordiger, het in die borgtogaansoek gesê Roux was ’n “slagoffer van diefstal of poging tot diefstal”.
Roux het die naweek ná die voorval in die Sunnyside-polisiekantoor se selle deurgebring, waarna hy op Maandag 30 Augustus op R100 000-borgtog vrygelaat is.
Ntloko se verhoor is tot volgende week uitgestel vir ’n moontlike borgtogaansoek. Hy sal tot dan in die Leeuwkop-gevangenis aangehou word.
- Volksblad