Duisende koop verkeersbeamptes om
2010-11-15 10:46
Johannesburg – ‘n Opname van Lead SA wat getoon het dat die bykans 2 500 mense wat in die afgelope drie maande verkeerspolisie omgekoop het slegs die punt van die ysberg was, het die Justice Project SA (JPSA) Maandag in ‘n verklaring gesê.
“Ons wil vinnig byvoeg dat die opname nie bekendgemaak het hoe sleg dinge is nie, selfs al is die getalle wat uitgekom het skokkend vir sommiges,” het die JPSA in ‘n verklaring gesê.
“Ons sal skat dat die resultate slegs die punt van die ysberg is en die probleem is baie groter as wat die opname bekend gemaak het.”
Primedia radiostasies en Independent Newspapers het die opname as deel van hul Lead SA-veldtog gedoen.
Hulle het Maandagoggend berig dat byna 2 500 mense “ja” geantwoord het toe daar gevra is of hulle al ‘n metropolisie-beampte in die afgelope drie maande omgekoop het.
Meeste van die omkopery het in Johannesburg plaasgevind, met 1889 voorvalle wat aangemeld is. In Ekurhuleni is 387 voorvalle aangemeld en in Tshwane 121.
Slegs nege Kapenaars het erken dat hulle beamptes omgekoop het.
Volg Nuus24 op Twitter