Duisende dronkbestuursake van rol geskrap
2011-09-09 14:27
Kaapstad – Duisende dronkbestuursake wat staatgemaak het op asemtoetse as bewyse, sal van die hofrol geskrap word.
Dít volg nadat regter Nathan Erasmus 'n Kaapse motoris wat die geldigheid van die Dräger-asemtoetser bevraagteken het, vrygespreek het.
Clifford Hendriks het die uitslag van 'n asemtoets bevraagteken nadat hy verlede jaar weens dronkbestuur aangekeer is en vier keer oor die alkohollimiet was.
Die gebruik van dié toestel sal opgeskort word in die Wes-Kaap tot owerhede die kwelpunte wat deur Erasmus uitgelig is, reggestel het.
Die toestel se sagteware moet aangepas word en oortreders sal twee asemmonsters in plaas van een moet gee.
'n Temperatuursensor moet ook by die toestel aangebring word.
Erasmus het gesê die staat word verplig om alle gereedskap tot sy beskikking te gebruik en glo asemtoetse kan in die stryd teen dronkbestuur gebruik word.
Hy het gesê die Dräger-asemtoetser moet eenvoudig aangepas word.
Dié uitspraak is bindend in laer howe.
Erasmus sê die beslissing is nie noodwendig in ander provinsies van toepassing nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter