Duisende bestee aan Zwelithini se reise
2012-11-23 09:15
Durban – Meer as R800 000 word maandeliks bestee aan koning Goodwill Zwelithini en sy gevolg se reise, berig The Mercury.
Die koning se reiskostes is Donderdag op 'n vergadering van KwaZulu-Natal se portefeuljekomitee oor finansies bespreek.
Roman Liptak, komiteelid en 'n IVP-lid van die provinsiale wetgewer, het gesê die bedrag is 'n maandelikse gemiddeld.
Luidens dokumente wat tydens die vergadering ter tafel gelê is, het Mduduzi Mthembu, hoof- finansiële beampte van die koningshuis, gesê dit is moeilik om die koning se reis- en ander kostes te beheer.
Mthembu het gesê minstens R820 000 word maandeliks gebruik vir die huur van privaatstralers en helikopters wanneer die koning die provinsie plat reis om sy pligte uit te voer.
Dit is nie bekend hoeveel keer in die huidige boekjaar die koning se rekening meer as R800 000 was nie.
Die koninklike huishouding het in die huidige boekjaar 'n begroting van R59,5 miljoen gehad.
Drie maande gelede het die koninklike huishouding kritiek uit alle oorde ontlok toe 'n verdere R12 miljoen gevra is om 'n huis in die koning se eNkonyeni-paleis te bou. 'n Verdere R5 miljoen is ook gevra om 'n plaashuis te omskep in 'n huis vir die monarg se jongste vrou, Zola Mafu.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA