Duiker vas oor perlemoen
2010-10-27 13:02
Oos-Kaap - 'n Man is gedurende 'n perlemoen-klopjag in Algoabaai in hegtenis geneem, het 'n woordvoerder van die Addo Olifantpark Woensdag gesê.
Sy makkers het in hul rubberbote gevlug. Nog 'n man het afgeduik en weg van die wildbewaarders geswem.
Megan Taplin het gesê die wildbewaarders op Bird-eiland het 'n lig naby Black Rocks-eiland gesien en gaan ondersoek instel.
'n Waarskuwingsfakkel is afgevuur, waarna die duikers in hul rubberbote gespring en gevlug het.
Die wildbewaarders het toe die twee duikers wat agtergelaat is se flitsligte in die water gesien.
Dié duikers was besig om 107 ontskulpte perlemoen en 'n selfoon op die park se tuig te laai.
Die duiker wat in hegtenis geneem is, is na die Kinkelbos-polisiekantoor geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA