Duduza tot rampgebied verklaar
2011-10-03 12:04
Johannesburg – Die tornado-geteisterde gebied Duduza, suidoos van Johannesburg, sal tot 'n rampgebied verklaar word, het Mondli Gungubele, uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, Maandag gesê.
"Die natuur het die lewens van ons mense ontwrig. Ons is in die proses om 'n span saam te stel om noodlenigingspogings in die gebied te koördineer."
'n Agtjarige kind is dood en 166 mense is beseer toe die storm Sondag die gebied getref het.
Honderde mense is dakloos gelaat en het die nag in 'n gemeenskapsentrum deurgebring.
Ntombi Mekgwe, LUR vir gesondheid in Gauteng, het gesê ses mense is in hegtenis geneem nadat hulle huise in die gebied besteel het.
"Dit is die eerste keer dat so iets in die gebied gebeur. Almal was paniekbevange en niemand het geweet wat aangaan nie."
Gungubele het gesê die omvang van die skade moet nog vasgestel word.
Jack Bloom, ’n DA-lid van die Gautengse wetgewer, het gesê 'n ondersoek na die swak bouwerk van HOP-huise moet gedoen word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA