Duarte bedank uit Zuma se diens
2010-02-28 11:29
Johannesburg - 'n Magstryd in pres. Jacob Zuma se binnekring het gelei tot die bedanking van Jesse Duarte, Zuma se hoof van operasies.
Duarte se besluit om te bedank uit Zuma se diens volg op 'n bitter vete tussen haar en Lakela Kaunda, die hoof van Zuma se private kantoor.
The Sunday Times berig Duarte het Donderdag haar bedanking per e-posboodskap aan mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, gestuur.
In die e-pos sê Duarte sy was die slagoffer van 'n nydige smeerveldtog deur Kaunda, en dat leuens en skinderstories oor haar versprei is.
Kaunda is die afgelope 15 jaar 'n vertroueling van Zuma en was onder meer sy woorvoerder toe hy die LUR van finansies in die KwaZulu-Natalse provinsiale regering was.
Duarte is in 2007 op die ANC se leierskonferensie in Polokwane tot die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verkies. Sy het as die ANC se nasionale woordvoerder gedien totdat sy in 2009 in die presidensie aangestel is.
Die Times se bron sê Duarte en Kaunde is "albei boelies wat van mag hou" en dat hulle al 'n geruime tyd lank bots.
Die afgelope weke is gerugte versprei dat Duarte haar werk gaan verloor.
In die e-pos sê Duarte sy bedank sodat sy die beweegruimte het om haar vyande behoorlik die stryd aan te sê: "Ek gaan nou in die oopte veg en geen genade toon nie."
Sy bedank egter nie uit die NUK of die ANC nie.
Duarte sê aan Mantashe die magshonder en gierigheid binne die ANC in die aanloop tot die leierskonferensie in 2014 is besig om die party te verwond.
Sy sê sy en ander senior raadgewers in die presidensie is gefrustreerd omdat Kaunda hulle gereelde toegang tot Zuma weier.
Sowel Mantashe as die presidensie het gister gesê hulle het nog nie haar bedanking ontvang nie.
Duarte was voorheen die Gautengse LUR vir veiligheid en sekuriteit voordat sy uit die pos gedwing is.
- Rapport