Druk verkeer vakansiegangers se voorland
2011-12-09 09:02
Bloemfontein – Vakansiegangers in die Vrystaat kan van vandag af ’n toename in verkeer op al die hoofroetes in die land verwag.
Nuwe spoedlokvalle is ook ingestel op van dié hoofweë om mense se gemiddelde spoed te meet en daarvolgens boetes uit te reik.
Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie (AA), sê die ergste verkeer word Donderdag 15 Desember en Vrydag 16 Desember verwag wanneer die meeste groot nywerhede sluit. Dít is ook die dae wat die meeste groot bus- en taxi-ongelukke jaarliks in die vroeë oggendure voorkom.
Ronald het die bergagtige Van Reenenspas in KwaZulu-Natal en die reguit paaie onderskeidelik tussen Warden en Villiers in die Oos-Vrystaat asook Leo Gamka en Laingsburg in die Wes-Kaap uitgesonder.
Hy sê verkeer gaan van vandag op al die hoofroetes begin toeneem. Dit sluit die N1-, N3- en N6-hoofweë in.
Ronald sê Maandag 2 Januarie gaan weer ’n gevaarlike dag op die land se paaie wees wanneer derduisende vakansiegangers ná Nuwejaar weer terugkeer na hul tuistes.
“Mense moet van die vulstasies gebruik maak om blaaskanse te neem. Ons stel ook voor dat mense nie in die nag ry met die algemene slegte toestand van ons paaie nie.”
Ronald waarsku oor nuwe spoedlokvaltegnologie wat van GPS-tegnologie en kameras gebruik maak. Dié lokvalle meet nie net een keer ’n voertuig se spoed om te kyk of die spoedgrens oorskry is nie.
Die tegnologie, wat op die Van Reenenspas op die N3 en tussen Leo Gamka en Laingsburg gebruik word, meet ’n voertuig se gemiddelde spoed om van die een punt na die ander te kom.
“Mense moet vir hul eie veiligheid altyd by die spoedgrens hou, maar kan maar weet dat hulle met dié nuwe tegnologie stewige boetes opgelê kan word.”
Andy Visser, woordvoerder van die N3-tolkonsessie (N3TC), sê mense kan die tolvrynommer 0800-N3Help (0800-63-4357) bel as hulle moeilikheid op die hoofweg optel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad