Druk verkeer op paaie na Gauteng
2012-01-02 16:25
Johannesburg – Druk verkeer op paaie na Gauteng bemoeilik sake vir motoriste terwyl vakansiegangers terugkeer huis toe ná die feesseisoen, het die Padverkeerbestuurskorporasie Maandag gesê.
"Tweeduisend-seshonderd motors per uur beweeg deur die N3 Mooirivier-tolhek noord na Johannesburg van Durban af vandag," het Ashref Ismail, 'n woordvoerder, gesê.
Altesaam 1 700 motors het elke uur op die N1-suid deur die Kranskop-tolhek tussen Polokwane en Pretoria beweeg, terwyl 1 000 motors deur die Verkeerdevlei-tolhek op die N1-noord na Johannesburg in die Vrystaat beweeg het.
"Ons wil 'n beroep op padgebruikers doen om asseblief uiters versigtig te wees en om padreëls te gehoorsaam.
"Die Padverkeerbestuurskorporasie het berigte ontvang dat volgafstande nie is wat dit moet wees nie. Ons doen 'n beroep op motoriste om nie naby die voertuig voor jou te ry nie, want dit kan ongelukke en padwoede veroorsaak," het hy gesê.
"As jy lang afstande reis, rus elke 200 km of twee uur."
Die voorlopige padsterftesyfer vir die fesseisoen is tans net meer as 1 100.
* Regstelling: Sapa het vroeër berig 26 000 motors per uur beweeg deur die Mooirivier-tolhek. Die korrekte syfer is egter 2 600.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA