Droogte: G’n uitkoms vir boere
2010-12-08 09:10
Volksblad
Kimberley – Terwyl Noord-Kaapse boere in die wurggreep van ’n uitmergelende droogte vasgevang is, is geen tekens op die verskroeide horison dat ’n dringende aansoek om rampdroogtehulp gaan slaag nie.
Weidingtoestande het die afgelope drie maande drasties in groot dele van die provinsie versleg. Boonop het verwoestende veldbrande uitgestrekte gebiede geteister en infrastruktuur vernietig.
Dit reën in kolle en strepe. Grondwatervlakke daal daagliks.
In Kimberley is die reënvalsyfers sedert September (toe Volksblad oor die voortslepende droogte berig het) ’n aanduiding van die dilemma waarin die landbouers in die Karoo, Kalahari en Namakwaland hulle bevind.
Die gemiddelde reënval vir September oor 30 jaar gemeet in die Diamantstad is 13mm. Vanjaar was dit 0mm.
Vir Oktober is die gemiddelde reënval 28mm, maar vanjaar is 2mm gemeet.
Vir November is die gemiddelde reënval 43mm. Vanjaar is 14,8mm hier aangeteken.
Willie Olivier van Frazerburg, voorsitter van Agri Noord-Kaap se omgewingsbewaringkomitee, sê dele van die Richtersveld, sentraal- en oostelike Karoo, Kalahari en Namakwaland het bitter min reën gekry.
’n Aansoek om droogtehulp van R359miljoen is op 11 Oktober deur die Noord-Kaapse departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming by die nasionale rampbestuur ingedien.
“Ek het gister met ’n beampte gepraat, maar dié kon nie uitsluitsel gee nie.
“Die aansoek moet glo nog na die tesourie voordat dit deur die kabinet goedgekeur kan word.
“Oor ’n week of wat vind die grootskaalse sluiting vir die somervakansie plaas. Dan moet ons dalk tot middel Januarie op ’n antwoord wag.”
Intussen is ’n verdere opname van die miljoene rande weens skade ingedien wat die veldbrande die afgelope tyd by Kuruman, Olifantshoek, die Kalahari noord van Upington, die Ghaapse berg by Koopmansfontein en Barkly-Wes aangerig het.
Olivier sê inwoners van die Noord-Kaap is baie meer kwesbaar vir enige landbouramp as in die res van die land.
In die Frazerburg-omgewing is die normale reëntyd in die herfs. Vanjaar het die reën weggebly. Vanjaar se droogte kan met dié van 1978, 1951 en 1937 vergelyk word.
“Die veldbedekking is aanwesig, want die boere is bewaringsbewus. Die bossies is kurkdroog, sonder blare en die voedingswaarde is weg. Kuddes moet verminder word, wat inkomste besnoei.
“Boere moet met mielies en pille voer wat die uitgawes skerp laat styg.”
Olivier sê veral die nuwelingboere se kanse om met hul boerderybedrywighede voort te gaan, word met die droogte verskraal. Hulle word die hardste getref.
Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê die situasie versleg weekliks. Die droogtegebied word vinnig groter.
Die hele winterreënvalgebied van Sutherland, Hantam en Namakwaland moet nog tot die komende winter op verligting wag.
“Daar is nie ’n ramphulpstrategie wat droogte, brande en vloede verteenwoordig nie,” sê Van Rensburg.
“Nou moet ’n mens elke keer ’n aansoek indien wat baie tydsaam en omslagtig is.
“Dit is ’n algeheel onbevredigende toestand.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad