Dronkbestuurder se makkers steek polisiebeampte
2011-07-19 18:28
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte is in Lady Frere gesteek toe hy ‘n man in hegtenis wou neem wat na bewering gedrink en bestuur het, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
Ao. Nimrod Ntlabeni (52) is na die St. Dominics-hospitaal in Oos-Londen geneem, waar hy in ‘n ernstige toestand is.
“Twee polisiebeamptes was op patrollie in Lady Frere toe hulle ‘n motor met ses mans in afgetrek het. Hulle het probeer om die bestuurder in hegtenis te neem vir dronkbestuur,” het kapt. Zamikhaya Qinisile gesê.
“Die vyf passasiers het toe messe uitgehaal en die een beampte gesteek.”
Volgens Qinisile het die beamptes toe waarskuwingskote afgevuur. Een van die aanvallers is doodgeskiet.
Twee passasiers en die bestuurder is in hegtenis geneem. Die ander twee passasiers het weggehardloop.
Die bestuurder sal na verwagting Dinsdag in die Lady Frere-landdroshof verskyn op aanklag van dronkbestuur.
Die twee passasiers sal Woensdag in dieselfde hof verskyn op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA