'Dronk tiener' van verdrinking gered
2012-12-27 17:59
Kaapstad – 'n Vyftienjarige seun van Table View in Kaapstad, wat Woensdag byna verdrink het, was vermoedelik onder die invloed van drank en dwelms.
“Die seun is per ambulans na Somerset-hospitaal geneem,” het Wilfred
Solomon-Johannes, woordvoerder van Kaapstad se rampbestuureenheid, gesê.
“Hy was vermoedelik onder die invloed van alkohol en
dwelmmiddels.”
Volgens Solomon-Johannes is twee ander kinders ook Woensdag van verdrinking gered.
Die 12 maande oue Nick Sumba het Woensdagmiddag by Muizenberg in die
moeilikheid beland.
“Die seun het saam met sy sussie in die riviermond
gespeel en hy is toe onder die water ingetrek. Hy is spoedig deur
lewensredders uit die water gehaal,” het Solomon-Johannes bygevoeg.
Sumba is na Valsbaai-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Solomon-Johannes het gesê die agtjarige Luyanda Skafungana van
Atlantis is by Melkbosstrand gered.
“Die lewensredder aan diens het die
seun gered. Die seun en sy tannie het
glo op die strand piekniek gehou,” het Solomon-Johannes gesê.
Hy is na die Wesfleur-hospitaal in Atlantis geneem en is in ‘n stabiele
toestand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA