'Dronk' polisie skiet straatverkoper
2009-11-03 09:59
Pretoria – Twee polisiebeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle glo geweier het om ‘n straatverkoper te betaal en hom toe doodgeskiet het.
“Die twee polisiebeamptes was van diens af en onder die invloed van alkohol toe hulle glo vieruur Sondagoggend die straatverkoper doodgeskiet het, omdat hulle geweier het om hom te betaal,” het Moses Dlamini, woordvoerder vir die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) Maandag gesê.
Die beamptes van die Pretoria sentraal-tak, was onderweg vanaf ‘n kroeg na die polisie se kaserne, toe die voorval plaasgevind het.
“Hulle het op die hoeke van Bosman- en Churchstraat op die straatverkoper afgekom en van sy stalletjie se lekkernye begin eet. Hulle het geweier om daarvoor te betaal,” het Dlamini gesê.
‘n Bakleiery het ontstaan, en die verkoper het die beamptes oorweldig.
“Hy het een van die beamptes met ‘n bottel op sy kop geslaan. Een van hulle het toe gehardloop tot by die kaserne, sy vuurwapen gaan haal en terug na die toneel gehardloop.”
“Twee skote is afgevuur, en die verkoper is op die toneel dood,” het Dlamini gesê.
Die polisiebeamptes is in hegtenis geneem, en sal in die Pretoria-landdroshof verskyn.
- Sapa