'Dronk – ja.' 'Jammer? Nee,' sê advokaat
2011-04-01 09:10
Kaapstad. – Die advokaat wat ’n regter gevloek het, is Donderdag in ’n hospitaal opgeneem waar ’n psigiater hom ondersoek het.
Adv. Nehemiah Ballem het landwyd opslae gemaak nadat hy regter Lee Bozalek verlede Vrydag in die Kaapse hooggeregshof “jou ma se p***” toegesnou het.
Dit het gebeur toe Bozalek hom gevra het waarom hy laat by die hof opgedaag het.
Na verneem word, word ’n aanklag van minagting van die hof teen Ballem ondersoek.
Twee advokate van die balieraad gaan die voorval ook ondersoek en hulle moet binne tien dae aan die raad verslag doen.
Ballem gaan ook gevra word om in dié tydperk nie as ’n advokaat te praktiseer nie, het adv. Alasdair Sholto-Douglas, voorsitter van die Kaapse balieraad, gesê.
Ballem het aan Bozalek gesê hy het moeilikheid met sy motor gehad en sy sekretaresse gevra om die hof te laat weet.
Voordat hy in die hospitaal opgeneem is, het Ballem oor sy hospitalisasie in ’n onderhoud met die Cape Argus gesê hy was dronk toe hy die gewraakte woorde teenoor Bozalek geuiter het. Hy is egter nie jammer of spyt oor die gebruik van die kru taal nie.
“Hoekom moet ek jammer sê? Die regter het moeilikheid gesoek.”
Omdat hy nie verwag het dat hy hof toe sou gaan nie, het hy ’n Smirnoff Storm begin drink terwyl hy in sy onklaar motor op hulp gewag het, luidens die Cape Argus.
Sy sekretaresse het hom egter later gebel en gesê die regter is bereid om tot 14:30 te wag. Teen die tyd dat hy by die hof opgedaag het, was hy besope.
“Almal kon sien ek was dronk.”
Volg Nuus24 op Twitter