Dronk inbreker kry alkoholvergiftiging
2011-05-11 19:56
Johannesburg - ‘n Man wat na bewering by ‘n kroeg in Uitenhage ingebreek en homself byna in ‘n koma in gedrink het, is Saterdag in die hospitaal opgeneem, het die polisie in die Oos-Kaap Woensdag gesê.
“Die man, in sy vroeë twintigs, het na bewering vroeg Saterdagoggend by die kroeg ingebreek en heeltemal op sy eie partytjie gehou,” het lt. kol. Priscilla Naidu, woordvoerder, gesê.
Die eienaar van die kroeg het die “hoogs beskonke” man Saterdagoggend kort voor 07:00 aangetref.
Hy het die polisie gekontak. Die man is na die Uitenhage Provinsiale Hospitaal geneem, waar hy in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en vir alkoholvergiftiging behandel is.
Hy is in ‘n stabiele toestand, het Naidu gesê.
Hy sal eersdaags in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter