Dronk dokter vas ná hy pasiënte aanrand
2011-07-09 20:05
Johannesburg – 'n Dokter in die ongevalle-afdeling van die Butterworth-hospitaal is Saterdag in hegtenis geneem ná hy na bewering twee pasiënte, insluitend 'n sesjarige seun, aangerand het, het die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement gesê.
Volgens verpleegsters aan diens was die dokter onder die invloed van alkohol, het Sizwe Kupelo, 'n woordvoerder, gesê.
Die dokter het in die eerste voorval omstreeks 11:00 na bewering probeer om die hand van 'n vroulike pasiënt met sy pen te steek.
"Sy was bang en het uit die spreekkamer padgegee," het Kupelo gesê.
Hy het daarna probeer om 'n sesjarige met 'n gebreekte arm se kop tussen sy bene vas te klem.
"Die ma se seun het om hulp begin roep en dit het ander pasiënte aangespoor om hulle pad na die kamer oop te forseer."
'n Veiligheidswag en 'n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, het beheer oor die situasie geneem.
Die dokter, in sy 40's, is in hegtenis geneem.
Volgens Kupelo is 'n span van die gesondheidsdepartement na die hospitaal gestuur om albei insidente te ondersoek. Bloedtoetse sal ook op die dokter gedoen word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA