Dronk bestuurder tref premier
2009-09-29 13:25
Durban - Zweli Mkhize, premier van KwaZulu-Natal, was Maandagaand betrokke by ‘n motorongeluk op die N3 naby Pietermaritzburg.
Volgens Mkhize se woordvoerder het hy en sy twee lyfwagte geen beserings opgedoen nie, maar sy voertuig is erg beskadig.
Insp. Joey Jeevan, woordvoerder vir die polisie in Pietermaritzburg, sê Mkhize se motor is deur ‘n VW Polo getref. Die bestuurder van die Polo was vermoedelik dronk.
“Die man is getoets en daar is gevind dat hy oor die limiet was. Hy is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn”, het Jeevan gesê.
Die bestuurder het probeer om van die toneel te vlug maar is deur Mkhize se lyfwagte gekeer.
- Sapa