Dronk bestuurder rand beamptes aan
2009-11-16 11:01
Kaapstad - Zoliswa Cetywayo, ‘n vroue-verkeersbeampte is Sondag naby Macassar aangerand nadat sy glo ‘n bestuurder, wat onder die invloed van drank was, in hegtenis sou neem.
Haar kollega, John Bezuidenhout, wat haar te hulp gesnel het, is ook deur die bestuurder en twee passasiers aangerand. Bezuidenhout is
later vir beserings onder die oog behandel en moes steke ontvang.
Adv. Lennnit Max, die minister van gemeenskapsveiligheid, het die aanval op dié twee verkeersbeamptes sterk veroordeel.
Aanvalle op wetstoepassers sal nie geduld word nie en dié soort optrede is 'n direkte aanval op die regte en plig van wetstoepassers wat die veiligheid van burgers behoort te beskerm, het Max gesê.
Dié oortreders sal beslis nie lig daarvan afkom nie en sal hul optrede aan die hof moet verduidelik, het Max gesê.
Max sê ook dat wetstoepassers nie afgeskrik sal word deur sulke bedreigings nie en sal voortgaan om die wette van die pad nougeset toe
te pas.
Dit is die plig van verkeersbeamptes om te verseker dat alle padgebruikers veilig tuis arriveer.
-Nuus24