Driejarige sterf toe muur ingee
2011-01-10 11:11
Pretoria - 'n Driejarige seuntjie het gesterf toe swaar reën veroorsaak het dat 'n muur in die huis waarin hy geslaap het, ingegee het, het die Tshwane-metroraad Maandag gesê.
William Baloyi, 'n woordvoerder, het gesê 'n muur in 'n huis in die Winterveldt-gebied, ongeveer 30 km noord van Pretoria, het Sondagaand ingegee as gevolg van swaar reën.
Vyftien plakkershutte in die Lusaka- informele nedersetting in Mamelodi, Pretoria is ook Sondag oorstroom, het hy gesê.
Niemand is in die oorstroomde hutte beseer nie en tydelike vesting is by 'n nabygeleë gemeenskapsaal verskaf.
Vyf huise in Soshanguve se Mabopane-gebied is ook oorstroom.
Nooddienste het daarin geslaag om water uit vier van die huise te pomp, en die inwoners van die vyfde het 'n tent ontvang vir tydelike skuiling.
Verskeie paaie in Pretoria-Wes moes Sondag tydelik gesluit word as gevolg van vloede.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA