Drie weeskinders met klippe doodgegooi
2012-08-19 14:49
Johannesburg – Die liggame van drie weeskinders, met hul voete en hande vasgebind met skoenveters, is in Naboomspruit ontdek, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
"Die twee seuns en 'n meisie is Donderdag as vermis aangemeld nadat hulle nie by die Montadi-jeugsentrum, waar die kinders gewoon het, opgedaag het nie, het brigadier Hangwani Mulaudzi gesê.
Die negejarige Bafana Kekana, Hosea Richard Kekana (10) en Johana Kekana (12) is Woensdag laas by die Dikobo-laerskool gesien waar hulle aan 'n optog, wat vir meer onderwysers vra, deelgeneem het.
'n Verbyganger het hul liggame Saterdag naby die Constantia-oord ontdek.
Bafana en Hosea was broers. Die seuns se ma was Johana se tannie.
Hulle is met klippe doodgegooi en die meisie is verkrag voordat sy vermoor is.
Bebloede klippe is langs die lyke, wat met komberse en takke bedek was, gevind.
"Die polisie is nie net op soek na die verdagtes nie, maar werk ook onverpoos om uit te vind wat die motief agter die moorde was," het Mulaudzi gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA