Drie verskyn vir moord op ANC-hoë
2011-01-11 12:02
Johannesburg - Drie mans het Maandag in die Mhala-landdroshof in Mpumalanga verskyn in verband met die moord op die vermoorde ANC-hoofsweep van die Ehlanzeni-munisipaliteit, Johan Holme Ndlovu.
Vyf mans is verlede week volgens Hlathi in Nyongane naby Hazyview in hegtenis geneem, maar twee van hulle kon nie met die moord verbind word nie.
Die saak is tot 19 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek, en om die beskuldigdes in staat te stel om vir regshulp aansoek te doen.
Die vuurwapen wat gebruik is om Ndlovu te vermoor, sowel as twee van sy selfone, is in hulle besit gevind.
Ndlovu is 'n paar kilometer van sy huis af in sy bors, linkerhand en boude geskiet.
Intussen is die polisie in Thulamahashe, Mpumalanga op gereedheidsgrondslag geplaas ná 39 mense na bewering vroeër probeer het om 'n familielid van Ndlovu se huis af te brand.
"Ons is waaksaam, en bly so... die situasie op die oomblik is rustig, maar as iets weer gebeur is ons daar om die situasie onder beheer te bring," het kapt. Leonard Hlathi Dinsdag gesê.
Die 39, 11 van hulle tieners, het Maandag in die Mhala-landdroshof verskyn. Hulle is op borgtog vrygelaat en sal weer op 28 Februarie in die hof verskyn.
Hulle is Vrydag in hegtenis geneem ná die polisie inligting oor die voorval ontvang het.
"Ons het inligting ontvang dat 'n groep oproeriges buite die huis van Ndlovu se familielid was. Hulle het klippe gehad en wou die huis afbrand. Hulle het selfs 'n polisievoertuig met klippe bestook... gelukkig is niemand beseer nie."
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA