Drie verkool in ongeluk
2010-06-08 03:46
Johannesburg – Drie mense het Maandag verkool nadat die taxi waarin hulle gery het, teen ‘n boom vasgejaag en aan die brand geslaan het, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.
Volgens insp. Mveli Nhlapo, woordvoerder, is die 36-jarige taxi-bestuurder en sy passasiers byna onherkenbaar verbrand.
“Ons kan nie die geslag van die passasiers bepaal nie omdat hulle heeltemal verbrand het,” het Nhlapo gesê.
Een van die passasiers is glo ‘n kind tussen die ouderdom van 12 of 13 jaar oud.
Die ongeluk het omstreeks 17:00 naby Germiston plaasgevind.
“Die taxi het langs ‘n Honda Ballade gery toe een van die motors van bane verwissel het. Die taxi het in die Honda vasgery en oor die pad geslinger voordat dit teen die boom tot stilstand gekom en aan die brand geslaan het.”
Die insittendes van die Honda is nie in die voorval beseer nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA