Drie vas wat vrou verkrag ná kêrel vlug
2011-08-16 21:53
Johannesburg – Drie mans is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n 21-jarige vrou in Peddie in die Oos-Kaap verkrag het, het die polisie gesê.
Die polisie het leidrade opgevolg en die mans Dinsdagoggend by hul huise opgespoor, het konst. Mkhululi Mayoli gesê.
Volgens hom het die drietal die vrou na bewering genader toe sy Saterdag in die vroeë oggendure saam met haar kêrel van ‘n taverne teruggekeer het.
“Die mans het die kêrel aangesê om weg te hardloop as hy nie wil sterf nie. Hulle het die vrou toe na ‘n oop veld gesleep, waar hulle haar om die beurt verkrag het,” het Mayoli gesê.
Die verdagtes, tussen die ouderdomme van 18 en 21, sal na verwagting Woensdag in die Peddie-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA