Drie vas wat polisie-gereedskap steel
2012-01-26 15:31
Johannesburg – Drie Mosambiekse mans is in hegtenis geneem vir die besit van polisie-gereedskap en ander gesteelde goedere naby Phokeng, het die polisie in die Noordwes Donderdag gesê.
Die polisie het Dinsdagaand ‘n huis in Lesung Village deursoek nadat hulle ‘n wenk ontvang het, het konst. Kabelo Phetabosigo gesê.
“Hulle het die mans en ‘n polisie-reënbaadjie en helm, ‘n koeëlvaste baadjiesak, rekenaarparte en monitors met SAPD-nommers op, asook ‘n polisie sakboek, gevind.”
Phetabosigo sê daar was ook ‘n Venter-waentjie, motor-enjins, motorfietsparte en vervalste DVD’s in die huis.
Die mans sal Vrydag in die Bafokeng-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA